Wasserfall
Pretoria, GP, ZA
Rock / Afrikaans / Epic
|
Join the Mailing List |
Oktober, 2006 : in ‘n klein klank ateljee in Menlo Park, Pretoria, sit 2 klank en beligtingtegnikuste en luister. Hulle luister na iets heeltemal nuuts. Iets heeltemal oorspronklik. Musiek wat iets sê sonder om iemand seer te maak. Musiek wat na iets voel, sonder om iemand kwaad te maak.
Die beligtingtegnikus kyk op : “Ek dink ons het dalk iets beet”. Sy naam is Dewald Wasserfall, sanger, kitaarspeler en liedjieskrywer vir die groep wat tans bekend staan as “Wasserfall”. Die klanktegnikus is natuurlik die legendariese Larry Pullen, wie se stempel afgedruk is op kunstenaars soos Prime Circle, Not My Dog, Springbok Nude Girls, Nathaniël en Nianell. Hy is ook heel toevallig die kitaarspeler en vervaardiger van Wasserfall.
Die klank waarna hulle luister is Dewald se breinkind van die afgelope 5 jaar. Die musiek speel al in Larry se kop sedert hy 7 jaar terug sy Jazz graad voltooi het. Die musiek is uniek, oorspronklik, toeganklik en intelligent. Dis Wasserfall se debuut album – “Veralgemeen Jouself”
Wasserfall val nie in ‘n spesifieke kategorie nie. Hulle glo in oorspronklike musiek en idees. Hulle klink anders – sonder om te skok – en beweeg maklik tussen meeste genres. Die lirieke op Wasserfall se debuut album, “Veralgemeen Jouself”, vind aanklank by die kommersiële sowel as alternatiewe Afrikaanse mark asook ‘n Engelse gehoor en spreek talle relevante kwessies in die huidige kulturele klimaat van ons land aan, op ‘n persoonlike en sosiale vlak. Wasserfall wou musiek maak waarvan studente sowel as volwassenes sal hou, en het dit baie suksesvol reggekry. Die album is goeie saam-sing materiaal met catchy tunes en sterk hooklines. Die lirieke is skerp en die kitaar-klanke herinner aan U2, Coldplay, John Mayer en self ‘n bietjie LinkinPark. ‘n Paar ballades belowe ‘n lang rak-leeftyd.
Wasserfall is ‘n nuwe klank vir ‘n nuwe Afrikaanse Suid-Afrika. Die groep spreek relevante kwessies aan in ‘n land en ‘n wêreld waar die jeug nogsteeds probeer om ‘n nuwe identiteit te vind.
Wasserfall bestaan uit Dewald Wasserfall (akoestiese kitaar, sang, programmering, lirieke en musiek) en Larry Pullen (elektriese kitaar, programmering, verwerking en ‘n hoop ander goed).
Dewald is 23 en redelik nuut in die musiekbedryf. Hy speel al kitaar en skryf liedjies vandat hy 12 jaar oud is. Hy het in 2002 sy eerste Afrkaanse liedjie, Platsak, geskryf. Die res van die album is oor vier jaar voltooi. Dewald het begin werk aan ‘n demo album maar het uit die staanspoor geweet hy benodig iemand om die musiek te laat lewe kry. Dit te leer asemhaal en varieer. Dit uit sy kop te haal en op ‘n digitale medium uit te bring. Daardie persoon is Larry Pullen
Larry Pullen is al van 1994 betrokke in die industrie. Sy tegniese ondervinding sluit onder andere The Springbok Nudegirls in, tuis en oorsee. Sy studio ondervinding sluit Not My Dog in (wenners van die 1998 SAMA vir Beste Rock Album). Met sy vele talente, het hy by David Gresham Records gewerk op albums met Cutting Jade, Karen Machaela en Wonderboom. Hy het ook Prime Circle se “Hello Crazy World” gemeng en help vervaardig. Larry het soos ‘n honger apie die geleentheid aangegryp om op Veralgemeen Jouself te werk en sê hy dink dis die begin van iets groot.
Wasserfall wil musiek maak wat nie deel is van die stereotiepe nie. Hierdie is Afrikaanse musiek soos nog nie van tevore gehoor nie. Dis diep genoeg vir die musiek-puris; bereikbaar genoeg vir die volwasse kontemporêre mark en byderwets genoeg vir studente.
Wasserfall toer tans die land aan die brand saam met EDEN. Hulle is ook te sien by Inniebos kunstefees sowel as Aardklop kunstefees. In Oktober bewys hulle hulle spreek nie net tot die pop mark nie en speel die voorskou vir kontroversiële rock legendes F*kofpolisiekar. Ook in die buiteland het hulle hul staal gewys en vertoniongs uitverkoop in Windhoek, Namibia.
Wasserfall vorm beslis ‘n integrale deel van die toekoms van Suid Afrikaanse musiek



Wasserfall



Try These Artists!

